Harman

Welkom

Die Braunvieh se besondere eienskappe, vleis, melk en rustige temperament het beslis die deurslag gegee toe Cois Harman die ras gekies het om mee te boer. ‘n Ras wat goed aangepas is en wat nie alleen kan sorg vir ‘n maandelikse kontantvloei deur melk verkope nie, maar die eienaar steeds kan trots maak wanneer die kalf in die veilingskraal verkoop word. In die Marico Bosveld word hoofsaaklik van die veld gemelk en op hierdie gebied klop die Braunvieh enige ander ras, want die Braunvieh het ‘n besondere stapvermoë en ‘n vermoë om van die veld hoë kwaliteit melk te produseer. 

Die vraag na Braunviehbulle en die feit dat daar na kuddes se prestasies gekyk word, het die boerdery laat konsentreer op vinnige groei, goeie gewigstoename na speen in verhouding met voerinname, gehardheid en aanpasbaarheid. 

Dit is dus belangrik dat bulle getoets word en daarom word daar aan die Fase C en D prestasietoetsskema deelgeneem. Bulle wat nie die paal haal nie word uitgeskot en geslag. So word die vroulike diere wat nie presteer nie, nie jaarliks kalf nie, geslag. Verse word van 18 tot 20 maande vir die eerste keer by die bul gebring of ge-KI. Verse kalf dus normaalweg voor 30 maande. Baie klem word in die kudde op kalwingsgemak, klein kalfies met geboorte wat vinnig groei na geboorte geplaas.

NET DIE BESTE IS GOED GENOEG
Die hele kudde word twee maandeliks geweeg en daar word goed rekord gehou van elke bees, bloedlyn se prestasies. Slegs bulle wat presteer het en hulle onderskei het as die top bulle se saad word in die kudde gebruik en bulle wat hulle onderskei het, word as bulle in die kudde gebruik. Op die manier verseker ons dat die kudde op die voorpunt bly en ‘n impak maak in ander kuddes.

VOEG WAARDE TOE MET DIE BESTE 
Dit is vir ons belangrik dat bulkopers trots is op die impak wat ons bulle op hulle kuddes het. Dit verseker dat bulkopers vriende bly en steeds terugkeer om ‘n tweede en ‘n derde bul te koop.